Hoewel die onderrigmetode by Oranje Preprimêr informeel is, vind dit binne 'n gestruktureerde dagprogram plaas,
waar die klem op die totale ontwikkeling van die kleuter val.
Daar word baie aandag gegee en tyd ingeruim vir grootmotoriese ontwikkeling, fynmotoriese ontwikkeling, kognitiewe ontwikkeling,
perseptuele ontwikkeling en sosio-ekonomiese ontwikkeling. Waarneming en assessering vind deurlopend en volgens die ontwikkelingstadium
van elke jaargroep plaas. Ons leerders word ook volgens kriteria soos voorgeskryf deur die Departement van Onderwys geassesseer.
Ons Graad R-leerders volg 'n volledige stap-vir-stap program vir die Grondslagfase, wat gebaseer is op die Hersiene Nasionale Kurrikulum.
Daar word ook 'n sifting vir skoolgereedheid gedoen.
Oranje Preprimêr beskik oor goed opgeleide Preprimêre onderwyseresse.
Kenmerkend van ons onderwyseresse is hulle deernis en empatie vir elke kleuter en hul bereidwilligheid om meer te gee as wat van hulle
verwag word.
Die kleuters maak ook kennis met gesag en orde buite die gesinsverband, dus 'n oefenskool om later gesag te aanvaar.
Ons kleuters word blootgestel aan 'n verskeidenheid uitstappies en besoekers.
Kleuters kan by 'n verskeidenheid buitemuurse aktiwiteite inskakel wat in skooltyd aangebied word.
Ons passie by Oranje Preprimêr is kleuters en om hulle op 'n speel-speel manier te begelei na formele onderrig.
Oranje Preprimêr se voertaal is Afrikaans. Ons funksioneer volgens Christelike beginsels waar diversiteit omvou word en ons
kleuters leer om ander te aanvaar en te respekteer. Die individualiteit van elke kleuter word geken en gereken.
Edna Hefer
SKOOLHOOF
|
|
 |