Dramatiese Kuns

DramaMev. Retha Pool (onderwyseres en hoofeksaminatrise vir Dramatiese Kuns in die Vrystaat)

Drama word as ’n keusevak by Oranje aangebied en bied aan leerders die kans om holisties te ontwikkel. Drama ontwikkel nie slegs kreatiwiteit nie, maar ook die vermoë om persoonlik te groei en verskeie sosiale vaardighede aan te leer wat in enige vakgebied goed te pas kan kom. 

Die kurrikulum strek oor verskeie gebiede van teater wat teoreties, sowel as prakties bestudeer word. 

Leerders word die geleentheid gegun om deel te neem aan verskeie praktiese projekte, insluitende:

  • Nasionale Toneelkompetisie in samewerking met KYKnet
  • Reza de Wet-tienertoneelfees, aangebied deur Oranje in samewerking met die Vrystaat Kunstefees.
  • ATKV-tienertoneelkompetisie
  • Logan-toneelfees in Fraserburg
  • Montagu-jeugkunstefees
  • Kunswedstryde

Drama word ook as ’n buitemuurse aktiwiteit aangebied.

Matriekuitslae:

2011 – 100 % slaag; 76% -gemiddeld; 9 A’s

2012 – 100 % slaag; 77% -gemiddeld; 9 A’s

2013 – 100 % slaag; 79% -gemiddeld; 8 A’s

2014 – 100 % slaag; 79%-gemiddeld

2015 – 100 % slaag; 78%-gemiddeld

2016 – 100 % slaag; 78,8 %-gemiddeld; eindig eerste in Motheo; 11 A’s

Die leerders is altyd opgewonde om deel te neem aan al die produksie wat aangebied word.  Leerders word dan die kans gegun om toneel te speel en deel te wees van die tegniese afdeling van teater.  Leerders ontwikkel dus tegniese vaardighede soos kostumering, grimering, dekorontwerp en beligtingontwerp.

Produksies waaraan die leerders reeds sedert 2015 deelgeneem het:

  • Meet – ’n verhaal oor eetversteurings.  Hierdie produksie is tydens die Reza de Wet-tienertoneelkompetisie, Logan-toneelfees in Fraserburg, ATKV-tienertoneelkompetisie, Tshwane-toneelfees en Montagu-jeugkunstefees. Kom tweede tydens die streeksfees van die ATKV-tienertoneelkompetisie opgevoer.
  • Bitterfontein – dr. Pierre-Andre Viviers.  Hierdie produksie is tydens die Reza de Wet-tienertoneelkompetisie, Logan-toneelfees in Fraserburg, ATKV-tienertoneelkompetisie, by die Vrouemonument en Montagu-jeugkunstefees opgevoer. Ons word ook gekeur om in 2017 deel van die Vrystaat Kunstefees te wees. Kom vierde tydens die ATKV-tienertoneelkompetisie.
  •  Requiem – Retha Pool.  Hierdie produksie gaan tydens die Reza de Wet-tienertoneelkompetisie, Logan-toneelfees in Fraserburg en die ATKV-tienertoneelkompetisie opgevoer word.

Kultuuraande

Interhuiskultuuraand

In die tweede kwartaal kry alle kultuurleerders die geleentheid om vir hulle sporthuise punte in te samel tydens die interhuiskultuuraand. Elke huis se twee huisleidsters moet die kultuurleerders in hul huis identifiseer en ’n kort program van sowat 15 minute saamstel.

Juf. Retha Pool is die organiseerder hiervan en maak seker dat die huisleidsters die reëls noukeurig volg. Die matrieks moet ook ’n verpligte item opvoer wat inpas by die VRL-leuse van die jaar. Die huisleidsters tree die aand as seremoniemeesters op en huise verdien ook punte vir bywoning.

2017 se interhuiskultuuraand is op 4 Mei gehou. Die uitslae lyk soos volg:

Juf. Wessels en juf. Hugo het as beoordelaars opgetree.

Die volgende toekennings is gemaak:

  1. Die beste seremoniemeesters was Boshoff se twee huisleidsters, Sonika en Tshego.
  2. Die beste matriekitem gaan aan Fischer se matrieks.
  3. Die beste kunstenaar is Fischer se Anke Rheeder vir haar ongelooflike vioolspel.
  4. Die beste item vir die aand is Fischer se dramagroep: Rielle, Marguerite en Carla
  5. Die algehele wenner van die interhuiskultuuraand:

Vierde plek: Otto met 63.5%

Derde plek: Boshoff met 64.4%

Tweede plek: Brebner met 65.4%

Eerste plek: Fischer met 75.5%

 

Reza de Wet

 

Reza de WetReza de Wet-tienertoneelfees

Mev. Retha Pool: feesorganiseerder 

Dit is Oranje se eie toneelfees wat sedert 2007 aangebied word. In 2009 het ons deel van die Vrystaat Kunstefees geword. Die fees is na Reza de Wet genoem omdat sy ’n oud-leerder van ons skool is en ’n legende in teaterkringe is.

Elke jaar word sowat 9 skole/produksies uitgenooi om deel van die feesprogram te wees. Die Hoërskool Martin Oosthuizen in Kakamas en Hoërskool Upington neem sedert 2008 elke jaar aan die fees deel.

Die fees word in die Albert Wessels-ouditorium op die kampus van die Universiteit van die Vrystaat aangebied. Twee beoordelaars, dr. Pierre-Andre Viviers en Lezane Basson van die ATKV, besluit oor die volgende toekennings:

  1. Feesproduksie
  2. Beste nuutgeskrewe teks
  3. Beste akteur
  4. Beste aktrise
  5. Beste akteur in ’n ondersteunende rol
  6. Beste aktrise in ’n ondersteunende rol
  7. Beste ensemble
  8. Beste regie

In 2017 word die Reza-fees 10 jaar oud en om dit te vier het ons iets nuuts by die program gevoeg. Van hierdie jaar af mag skole slegs nuutgeskrewe werke op die planke bring. Die Kunstetrust het as borg toegetree en prysgeld van R5000 is op die spel vir die skrywer van die beste nuutgeskrewe teks.